Friday, December 25, 2009

Geseënde Kersfees

Aan al my vriende en die wat nog gaan vriende word, Geseënde Kersfees, Merry Christmas en Frohe Weihnachten!

 

Gister het ek twee besonderse mense ontmoet. Rupert  en Jolene Botes het my boek gekoop. Ons het by Menlyn ontmoet en koffie gedrink. Rupert het toe vir my die CMA se Biker Bybel, mooi in leer gebind, as geskenk gegee. Dit was ‘n kosbare ervaring.

 

In die Bybel het hulle vir my Ps. 91 gemerk, en voor in die Bybel ‘n mooi boodskap geskryf.

 

Baie drade kom saam. My gedagtes het teruggeloop na lang jare terug, September, op die grens, besig met ‘n Ops, Butterfly. Dit was ‘n Saterdag 14 September. Ek het skielik sonder enige rede daardie oggend bitter alleen gevoel. Met ‘n rusbreek het ek my klein weermag Bybeltjie uit my bo-sak gehaal. Dit het by Ps. 91 oopgegaan. “Al val ‘n duisend aan jou linkersy en ‘n tienduisend aan jou regtersy, na jou sal die dood nie kom nie.”

 

Ek het dit onderstreep en die dag en datum en plek bygeskryf. My alleengevoel was weg.

 

Gister het die twee dierbare (toe toe nog onbekende) vriende weer ‘n keer vir my daardie versie kom gee.

 

Mark, jy is weer reg bewys. Deur die boek het ek al soveel wonderlike ervarings gehad en mense ontmoet wat ek miskien andersins nooit sou ontmoet het nie. Die boek verbind en bou brue.

 

Die aftelling vir die volgende groot ry begin binnekort. Dan gaan dié webblad weer begin lewe.

No comments:

Post a Comment