Sunday, December 27, 2009

Ek was bang vir luislange!

Dit was 'n bosveld Sondag uit die handboek: Sonnig, warm, blou hemel, die groen van die bosveld intens skitterend groen, en baie water in die veld.
Ek is met die KLR Nylstroom toe. So 'n ent van die dorp is die Jasper afdraaipad. Daar het ek grondpad begin ry. Die ry oor Rusland/Siberie is net 'n paar maande weg. 'n Ma van een van ons huidige studente in Duitsland het baie filofies gese mens kan leer sand ry maar modder ...
Vandag was dus bietjie modderry die hoofdoel. Dit het mos gister, Saterdag, juis so lekker gereen.
Ek het grondpad gery, later op 'n kleiner paadjie afgedraai, met die gras en bos al digter om my.
In daardie omgewing is 'n paar jaar gelede 'n matriekseun van Nylstroom deur 'n luislang aangeval toe hy in die digte gras hulle bakkie uit die modder wou uitgrawe.
'n Paar keer moes ek die fiets laat staan om eers te gaan kyk hoe 'n sloot of driffie lyk voor ek kon deurry. Die gras was dig tot teen my skouers.
Terwyl ek een keer terugstap fiets toe, het ek 'n geritsel van gras dig teen my gehoor. Ek het nie beplan om so vinnig weg te vlieg nie maar ek was vinniger as 'n blits terug op my fiets. Die geritsel? Dit was 'n lang stuk gras wat aan my valhelm vasgehaak het.
Dis nie maklik om in die digte bosveld te oefen as mens 'n slangfobie het nie ...

1 comment:

  1. 'n Man se brein kan partykeer jou grootste vyand wees....

    ReplyDelete